HOOFSTUK 3 SPRAKELOOS
3.8 Taal as uitstelmiddel
Begin dan maar eens te schrijven.
Niet dus (bl. 31).
In hierdie afdeling word een van die grootste paradokse van Sprakeloos bespreek: die gebrek aan taal (of spraak), wat lei tot die produksie daarvan – oftewel die “[v]erlies van taal hersteld met taal” (bl. 59). Lanoye, wat alles behalwe “sprakeloos” blyk te wees, se werkswyse is duidelik ironies, in die lig van die titel van die roman. Veral met betrekking tot sy laaste woorde in die boek, sy skryfbelofte, staan die verhouding tussen sprakeloosheid en spraaksaamheid des te meer uit: “Nooit meer zwijgen, altijd schrijven, nooit meer sprakeloos” (360). Naudé (2011:11) wys ook op die ironiserende titel, “want hierdie skrywer is nié sonder spraak nie”. Tog het die uitsteltegniek (ten opsigte van die skryf oor die kern van die roman: sy moeder) ʼn definitiewe doel in Sprakeloos, en verskeie redes kan vir so ʼn siening aangevoer word. Die opbou van spanning is een van die uitvloeisels van hierdie assosiatiewe harwar-vertelling.
In Lanoye se poging om die dapperheid van sy moeder in woorde vas te vang, lei hy aan
“uitstelgedrag” (Demeyer, 2010:627) – wat vir byna sestig bladsye aanhou in die afdeling “hij
(of: het verhaal van het verhaal)”. Lanoye beskryf hierdie uitstelgedrag ook self as
“[h]oogstaande platboekerij” en “[d]oorzichtige begoocheling” (bl. 32). Nadat hy vir die derde keer homself aanspoor om met die verhaal van sy moeder te begin (sien bl. 31, 64 en 71), pak hy deel twee van die roman aan: “zij (of: geslagen met verstomming)” – die deel oor sy moeder.
Die konstante styging en daling in die storielyn en die afwisseling van verskeie diverse onderwerpe het volgens Demeyer (2010:634) spanningsboë tot gevolg en laat vervaag die tradisionele enkele storielyn. “Het associatieve verteller leidt tot een smeltkroes van verhalen, waarbij van een traditionele hoofdverhaallijn geen sprake meer is”, meen Muyres (2013:32) voorts in hierdie verband. Offermans en Demeyer is dit egter ook eens dat die uitsteltegniek spanning wek en dat Lanoye se meer-is-meer-siening nie altyd suksesvol is nie. “Zulke spanningsbogen lukken echter verre van altijd, en dan is de functionaliteit van die passages niet genoeg om overtuigend te werken” (Demeyer, 2010:634). Demeyer (2010:633) is van mening dat hierdie lang uitweidings op Lanoye se obsessie met hierdie moederboekprojek dui:
Hij verliest zich telkens weer in lange uitweidingen om uiteindelijk toch opnieuw op de vraag naar het hoe en wat van dit boek uit te komen. Zo suggereert dit deel op een krachtige manier het obsessionele karakter van het project.
Hierdie “obsessionele” gedrag is veral van toepassing op Lanoye se woordgebruik. Die desperate poging om die gepaste woordeskat te vind ten einde sy moeder se lewe te beskryf, word ʼn frustrerende obsessie. Storm (2009) skryf dat Lanoye se aarseling juis om hierdie rede
“wellicht begrijplelijk” is. In hierdie desperate soeke na die gepaste woordeskat manifesteer ʼn ander opvatting van taal by Lanoye – “zijn vermaledijde gevoel voor taal”. Anders gestel:
Lanoye se skrywe oor taal, tesame met sy woordryke uitweidings, “de meligheid, de woordspelingen”, afdraaipaadjies oor die Antwerpse Steenweg en Sint-Niklaas asook beduidende karakters en familiestaaltjies, dra volgens Storm (2009) meer gewig as die feit dat hy aarsel om oor die dood van sy moeder te skryf. In sy soeke na (sy ma se) taal, vind hy as ’t ware sy eie.
Deur middel van hierdie assosiatiewe manier van vertel, bou Lanoye ʼn konteks op vir die verhaal van die siekte en sterwe van sy moeder (Muyres, 2013:32). Die uitsteltegniek plaas veral klem op die onvermoë om sekere gevoelens en beelde te verwoord en derhalwe word daar op sommige plekke meer gefokus op Lanoye se skryfproses as op die verhaal van sy moeder. Lanoye wil die leser laat glo dat hy met die skryf van die roman voor ʼn nuwe uitdaging te staan gekom het; “een wat hom met sy onmag en onvermoë gekonfronteer het” (Van Schalkwyk, 2011:201). Die uitdaging is grootliks te wyte aan die feit dat hy nie op sy bekende vak, die bellettrie, kon terugval om hierdie siekteverhaal te skryf nie.
Lanoye skryf egter talle bladsye lank oor sy eie onvermoë, frustrasie en hulpeloosheid om die regte woorde te vind. Dit laat Muyres (2013:32) vra of die verhaal oor sy moeder wel nog die
“hoofdvertelling” is. My vertolking hiervan is dat Lanoye se uitweidings, afdraaipaadjies en uitsteltegniek die enkele verhaallyn verdeel en die narratief fragmenteer, maar dat dit steeds die hoofvertelling belig. Die vernietiging van die koherensie van ʼn lewensverhaal is ʼn tipiese kenmerk van verhale oor ʼn traumatiese gebeurtenis, soos die dood van ʼn ouer (Ester et al., 2012:8). Hierdie gebrek aan koherensie kan op ʼn persoonlike vlak sowel as in die breër samelewing voorkom. In Sprakeloos sien ons dat hierdie ontwrigting veral op ʼn persoonlike vlak plaasvind. Josée se lewe word byvoorbeeld ontwrig deur die dood van haar oudste seun.
Muyres voer ook ʼn paar redes vir Lanoye se uitstelgedrag aan wat hierdie verdeling van die verhaallyn bevestig. Die primêre rede vir hierdie uitstelgedrag is “lafheid” (Muyres, 2013:33);
Lanoye se onwilligheid om sy oorlede moeder se lewe as sodanig te vervang met sy eie woorde. “Hij wilde zich verbergen voor de pijn, voor het hartzeer, dat het schrijven over de ziekte en de dood van zijn moeder bij hem zou oproepen” (Muyres, ibid.). Lanoye erken self dat hy lank genoeg versuim het om die boek te skryf en dat hy homself skaam vir sy “creatieve besluiteloosheid” (bl. 24). Na talle aanmanings onderneem hy om te begin, maar dis duidelik makliker gesê as gedaan: “Daarom, punt. Het is genoeg geweest, nu. Hak en steek, been uit, leg ieder botje bloot – begin. Om het even waar. Maar begín” (bl. 64). Weldra word hierdie
“lafheid” om te skryf stopgesit en begin die “verteren” van die pyn, soos wat hy die skryfaksie oor sy moeder beskryf:
Ik heb lopen traineren en chicaneren als nooit tevoren, uit lafheid mij verbergend voor een pijn die ik had weggeslikt zonder ze te verteren, maar ook zonder ze te wíllen verteren (bl. 24).
Die tweede rede vir Lanoy se assosiatiewe uitstelgedrag is die toenemende druk wat hy gevoel het om slegs positief oor sy moeder se lewe te reflekteer. Veral omdat sy pa nog gelewe het en omdat hy geweet het dat sy pa sy werk oor haar sou lees, wou hy haar des te meer verheerlik in plaas van swart smeer. Hy hou egter by die waarheid, hoe hy haar onthou, en beeld haar telkemale óók in ʼn negatiewe lig uit. “Een belangrijk obstakel vormt de vader die nog in leven is”, meen Muyres (2013:27). Lanoye bieg-sê ook aan die begin van die roman (bl. 62) dat die boek sig nie wou laat skryf terwyl sy vader nog gelewe het nie. Lanoye kan nie anders as om inklusief oor sy ouers te skryf nie. Hulle lewens beskryf mekaar en daarom kan hy nie oor die een skryf sonder om oor die ander uit te wei nie:
Want zoals men niet kán vertellen over haar zonder uit te weiden over hem, zo kan ik niet schrijven over hen beiden zonder uit te weiden over de godganse wereld
Die druk om ʼn boek oor sy moeder te skryf het toegeneem aangesien sy van hom verwag het om ook oor haar te skryf. Nadat Lanoye ʼn verhaalbundel met sy pa se gesig op die voorblad geskryf het, het sy nie geskroom om presies te sê wat sy van ‘haar’ boek verwag nie: “Me tegelijk fijntjes waarschuwend dat het maar beter een groots en positief verhaal kon opleveren, een boekwerk van gepaste omvang, geen kwaadaardige kattebel” (bl. 27). Die derde rede hoekom Lanoye talm om by die verhaal van sy moeder uit te kom, is weens die druk van sy vader om aan haar weer ʼn stem te gee. “Zijn vader wil dat de verteller zijn vrouw weer tot leven brengt door over haar ter schrijven” (Muyres, 2013:34).
Met faalangst jegens hem heeft het niets te maken. De vrees niet te zullen slagen in zijn opdracht om haar uit de doden op te wekken met mijn woorden. Juist hij zou mijn literaire lazarusarbeid nooit hebben gedesavoueerd. Hij zou íedere poging, hoe mislukt of middelmatig ook, kritiekloos verwelkomd hebben als een kamerbreed mirakel, bezongen hebben als een wereldwonder (bl. 62-63).
Lanoye het geweet dat sy werk altyd sy pa se goedkeuring sou wegdra en dat dit die kwaliteit van sy werk moontlik negatief sou beïnvloed. Hy wou die beste huldiging aan sy moeder gee wat hy kon en met sy pa wat sy werk “besing as ʼn wêreldwonder” sou dit waarskynlik nie gebeur nie. Omdat hy ook nie oor haar kon skryf sonder om oor hom (wat nog gelewe het) en
“over de godganse wereld” te skryf nie, het hy genope gevoel om te wag tot ná sy pa se sterwe om sy roman te voltooi. Sy lewende vader was as ’t ware ʼn bedreiging vir sy voorgenome eerlike en onthullende skryfstyl en daarom word die besinning oor taal as ʼn uitstel- en uitrekmiddel (van sy ouers se lewens) geregverdig. Na Josée se dood het Roger verwagtings van Lanoye met betrekking tot ʼn moederboek gekoester. Fortuin (2009) identifiseer die verwagtinge van Lanoye se wewenaar-pa as die oorsaak van Lanoye se “kopschuw” houding – skrikkerig om te skryf en wetend dat die boek nooit sy ouers uit die dood sou opwek nie. Met sy woorde moes Lanoye sy moeder, op aandrang van sy pa, reïnkarneer, wat hy geweet het nie gaan gebeur nie, maak nie saak hoeveel woorde hy gebruik nie:
Hij rekende op mij voor niets minder dan een kleine reïncarnatie. De wederopstanding van zijn Josée zoals ze was geweest, door de jaren heen, op en naast de planken. Zij had mij gebaard? Ik moest hetzelfde doen met haar. Minstens voor hem, en liefst voor heel de wereld. Zoals zij langzaam voor zijn ogen was kapotgegaan, afgebroken, uiteengerafeld, stukje bij beetje verloren gegleden, hem woord voor woord ontvallen – zo moest ik haar heropbouwen, zin voor zin, bladzijde voor bladzijde (bl. 59).
Nog ʼn rede wat Muyres (2013:34) vir Lanoye se talming aanvoer, is die besef dat hy altyd te kort sal skiet met die vertel van iemand anders se lewensverhaal. Taal sal altyd assosiatief
wees en daarom altyd beperk. Omdat taal die enigste medium is waarmee hy haar lewe kan beskryf, ontwikkel Lanoye ʼn weersin in taal en dit verklaar “zijn vermaledijde gevoel voor taal”
(Storm, 2009). Lanoye is bang dat sy woorde die enigste herdenking is wat van haar sal oorbly (Muyres, 2013:34). Tog kom hy tot die besef dat skryf beteken om los te laat (bl. 64) en dat taal nooit die werklikheid sal kan vervang of in sy totaliteit sal kan naboots nie. Muyres (2013:38) skryf Lanoye se volgehoue uitstel aan sy vrees vir totale vergetelheid van sy ouers toe:
Zolang hij schrijft, geeft hij zijn ouders een stem, houdt hij ze in stand. Als hij stopt, als hij zwijgt, geeft hij ze aan de vergankelijkheid prijs en kan het grote vergeten beginnen.
Hierdie aanhaling voorsien nog ʼn rede vir Lanoye se literêre talming – ʼn tipe instandhouding van sy ouers. In ʼn sekere sin word sy ouers aan die lewe gehou deur sy skrywe. Hy dwing homself om gebeure in detail op te roep ten einde hulle akkuraat te beskryf as deel van die poging om van hulle afskeid te neem. In sy eie woorde gee hy die kruks van sy uitstelgedrag weer: “Zolang ik niet dat finale punt zet, onder aan het laatste blad, is het nog niet echt afgelopen, heb ik dat dikke vette kruis nog altijd niet ten volle getrokken. Dat kruis over haar, over hem” (bl. 357). Demeyer (2010:634) gebruik die “vlees word woord”-metafoor om te verduidelik hoe Lanoye, deur middel van woorde, sy ouers se teenwoordigheid probeer skep.
Die boek neem as ’t ware die fisiese plek van sy ouers in: “Feitelijk gaat het boek, het talige beeld, de plaats van de ‘echte’ personen innemen en neemt Lanoye met het schrijven over zijn vader en moeder afscheid van zijn ouders” (Muyres, 2013:34). Van Dijl (2017) beklemtoon die feit dat Sprakeloos meer oor loslating gaan as oor bewaring en noem die roman “een bezweringsritueel in tekst, het soms door merg en been gaande verslag van een poging tot loslating”. Demeyer (2010:631) sluit by Van Dijl aan:
In Sprakeloos wil Lanoye niet meer dat het boek een bewaardoos wordt, maar dat het net als het menselijke vlees vergankelijk zou zijn.
Lanoye besef dat sy roman ʼn finale einde aan sy ouers se lewens sal maak en stel daarom uit, neem afdraaipaadjies en vra eindelik ook om verskoning vir sy weifeling en “lange uitweiding dit keer” (bl.22) – maar hy doen dit keer op keer. Hy skryf dat hy egter nie anders kan as om uit te wei nie. Dit is sy geaardheid om uit te brei en in oordaad te beskryf, soos wat die gebruik ook in sy familie is. “[Z]o zit ik in elkaar, zo wordt in mijn streek en in mijn familie verteld en herdacht, zo is ons woord, zo is ons vlees: breeduit, we zullen daarmee moeten leren leven, u en ik, minstens voor de duur van deze sage” (ibid.). Hy moet oor hierdie triviale onderwerpe skryf ten einde by die hoofverhaal van die roman uit te kom. Deur deurlopend assosiasies te maak en
staaltjies te verweef met die beskrywing van die aftakeling van sy moeder, word ʼn hegte literêre struktuur gevorm – ʼn struktuur wat soms verveel, en Lanoye besef dit:
Ik had eigenlijk allang moeten ophouden. Vergeef het mij als ik dat nog niet deed.
Mijn vingers blijven maar tikken, de woorden blijven maar verschijnen, op mijn scherm en op uw blad. Moet ik mij excuseren voor mijn lamlendigheid? Als u dat plezier doet: graag. Want het ligt geheel en al aan mij (bl. 357).
Die metatekstuele aard van die roman dra verder by tot die uitstelgedrag – Lanoye wil met die leser sy wroeging met die ontstaan van die roman deel: “Lanoye doet uitvoerig uit de doeken waarom het schrijven van het boek hem zoveel moeite heeft gekost” (Muyres, 2013:33). Met hierdie assosiatiewe uitsteltegniek poog Lanoye om sy frustrasie by die leser tuis te bring; hy skryf soms oor onbenullighede ómdat hy onmagtig voel om oor die kern, die sogenaamde
“hoofdvertelling” (Muyres, 2013:33) van die roman, sy moeder se verlies en lyding, te skryf. Al vroeg in die roman kom hy tot die besef dat hy besig is om oor alles behalwe “de essentie” te skryf:
Gegeneerd om mijn vluchtgedrag in andere projecten, naar andere oorden, en in andere dan noodzakelijke woorden. En zie, zelfs nu, herbegonnen en wel, moest het hier eerst bladzijdenlang – en dus nog immer vluchtend – gaan over zo veel anders dan over de essentie. Het zij zo. Het is een waarheid als een rund. Zelfs bij dit hernieuwde schrijven had ik eerst weer nood aan omtrekkende manoeuvers, epische schijnbewegingen op de vierkante millimeter, cirkelende stoeten vol monsters en trollen, van Maria Verguldt tot Napoleon, van heteluchtballonnen tot Kaapse blushelikopters (bl. 61).
ʼn Kontras word geskep tussen Lanoye se vroeër werke, waar dit juis oor die vermoë gaan om te skryf, en die onvermoë in Sprakeloos om oor moeilike onderwerpe te skryf, en “over zo veel anders dan over de essentie”. Hellemans (1998:81) wys op hierdie kontras. Lanoye was ʼn
“heus medium” tussen woorde en die werklikheid in sy vroeër werke, soos Kartonnen dozen en Slagerzoon met een brilletje. In Sprakeloos sukkel Lanoye om hierdie medium te wees omdat hy nie woorde met werklikheid kan versoen nie. Oor Lanoye se eerste sogenaamde “memoires”
skryf Hellemans (1998:81) soos volg:
Zonder subversief te zijn of artistiek, door mee te leven met wat overleeft, maakte Lanoye van zichzelf in deze memoires een communicerend vat, een heus medium tussen het woord en het beschreven leven. Zonder het zelf te beseffen was Lanoye toen de muzenzoon die hij altijd heeft willen zijn.
Hierdie uitlating rakende sy eerste “hybride romaneske vertelling” (ibid.) staan in kontras met hoe Lanoye oor sy moeder skryf. Woorde is bloot onvoldoende in die beskrywing van sy moeder se lewe. Hy sukkel om die “medium” tussen realiteit en haar werklikheid te wees, die
“communicerend vat” en die “muzenzoon” (ibid.). Daarom talm hy en spring van die hak op die tak vir ongeveer die eerste sestig bladsye van die boek. “En oog in oog staand met dat rijk der vrouw, kan het niet anders dan dat ik nog een allerlaatste keer neig tot lanterfanten en geweifel.
Waarom ik?” (bl. 64). Hierdie uitweidings loop swaar onder kritiek deur. Lang, uitgerekte beskrywings oor Lanoye se moeder, skryf Demeyer (2010:634), “leidt rap tot verveling”. Tog het hierdie sogenaamde uitsteltegniek ʼn pertinente funksie, aangesien die romanstruktuur die inhoud bekommentarieer en vice versa.
Demeyer (2010:633) is ook van mening dat hierdie uitweidings, assosiasies en onderbrekings die metafoor van vlees wat woord word, versterk: “De structurele gevolgen van het alles willen vertellen, de interrupties en uitweidingen, passen in de idee van het vlees worden woord.”
Aangesien Sprakeloos nie ten doel het om deur middel van literatuur iets te bewaar en ʼn
“bewaardoos” te wees nie, maar juis te laat gaan (“Schrijven is verdrijven” (bl. 64)), staan dit in kontras met sy vorige outobiografiese werk (Demeyer, 2010:630). Demeyer (ibid.) noem
“bewaarkracht” ʼn konstante in die outobiografiese werk van Lanoye en meen dat daar wel tekens van hierdie bewaarkrag in Sprakeloos sigbaar is, hoewel min: “Bij de eerste plannen voor het moederboek spreekt nog eventjes het geloof in de bewaarkracht van de literatuur.”
Ten spyte van uitstel en uitweiding, vind Lanoye ʼn manier om by die kruks van sy verhaal, sy moeder, uit te kom. Ester et al. (2012) ondersoek die mate waarin ʼn traumatiese ervaring verwoord kan word. Kan kontekstualisering en singewing steeds ná ʼn traumatiese ervaring geskied? Dit is die sentrale vraag in die boek oor Trauma en narratief in Nederlands en Afrikaans. Ester et al. (2012:7) meen dat afwesigheid verset bied teen kontekstualisering.
Afwesigheid (soos die van ʼn geliefde) kan nie deur ʼn konvensionele vertelling verhaal word nie.
Afwesigheid kies as ’t ware ʼn literêre uitdrukkingsvorm “waarin het gebeuren tot vrijwel niets, namelijk tot de emotie van de afwezigheid, wordt teruggebracht” (Ester et al., 2012:7). In Sprakeloos kan die uitsteltegniek as hierdie onkonvensionele verteltegniek beskou word ten einde afwesigheid en verganklikheid te kontekstualiseer.
Demeyer (2010:631) meen dat die kontekstualisering van verganklikheid uiteindelik in ʼn mate plaasvind. Lanoye slaag daarin om sy ouers sowel as sy eie trauma te kontekstualiseer en verganklikheid binne ʼn groter eksistensie-verband te plaas. “[N]iettemin slaagt Lanoye erin om op zowel stilistisch als structureel vlak via het samenbrengen van vlees en woord het vergankelijke toch enigszins te suggereren”, skryf Demeyer (2010:631). Hierdie kontekstualisering vind plaas omdat Lanoye “voortdurend het particuliere, naakte en